Deur Nico Strydom
Mynveiligheid in Suid-Afrika, gemeet aan die aantal sterftes, het die afgelope paar jaar merkbaar verbeter, maar volgens Solidariteit is mynveiligheid in Suid-Afrika beslis nog nie voldoende nie. Dit strook met die regering en ander rolspelers se mikpunt dat mynveiligheid in Suid-Afrika teen 2013 met die topstandaarde in die internasionale mynbedryf vergelykbaar moet wees.
Verlede jaar se 128 mynsterftes is die laagste sterftesyfer tot nog toe en toon ’n daling van 24% teenoor 2009. Wat egter kommerwekkend is, is die 21%-toename in mynsterftes in die eerste vier maande van 2011 vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Mynongelukke het in die eerste derde van 2011 reeds 47 lewens geëis. Die aantal mynbeserings as gevolg van mynongelukke het egter in dieselfde tydperk afgeneem.
In 2003 tydens die myngesondheids- en -veiligheidsberaad is daar deur die drieledige strukture in die bedryf (vakbonde, werkgewers en die staat) ooreengekom dat mynveiligheid in Suid-Afrika teen 2013 vergelykbaar moet wees met mynbedrywe in lande soos Australië en die VSA. Dié internasionale mynveiligheidsmaatstawwe word bereken op grond van die sterfte- en beseringskoers per 1 000 werknemers per miljoen werkure.
Teen einde verlede jaar was die internasionale mynveiligheidsmaatstaf minder as 1 sterfte per 33 miljoen werkure. Suid-Afrika het, ondanks die vermindering in sterftes verlede jaar, steeds in dié tyd 1 sterfte per 7 miljoen werkure gehad. Dit beteken Suid-Afrika het amper 5 sterftes per 33 miljoen werkure gehad en dus 5 keer meer sterftes as die internasionale mynveiligheidsmaatstaf. Die maatstaf is ingestel danksy verskeie aksies wat deur die strukture in die bedryf geneem is.
Die departement van minerale hulpbronne sê dit is veral belangrik om in die goudsektor met internasionale mynveiligheidsmaatstawwe te vergelyk terwyl daar deurlopende vordering in die platinum-, steenkool- en ander sektore gemaak moet word. Die meeste mynsterftes vind steeds in goudmyne plaas, gevolg deur platinummyne.
Volgens adv. Paul Mardon, hoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid, is dit goeie nuus dat minder mense beseer word,maar is dit asof die ongelukke wat wel plaasvind, ernstiger is.
“Van die 47 noodlottige ongelukke wat in die eerste derde van 2011 plaasgevind het, was 22 in goudmyne en 12 in platinummyne. Dit verteenwoordig ’n skokkende 140%-toename in mynsterftes in platinummyne.”
Die ooreenkoms van 2003 behels ook dat nagenoeg 40 000 veiligheidsverteenwoordigers en vakbondopsieners teen die sperdatum opgelei moet wees. “Solidariteit se afdeling wat spesialiseer in beroepsgesondheid en -veiligheid moedig onder meer die aanstelling van vakbondverteenwoordigers aan wat net opmynveiligheid fokus. Die resultate hiervan is duidelik. Werkgewers met só ’n verteenwoordiger se veiligheidsrekords lyk beter as dié van hul mededingers,” verduidelik Mardon.
Daar is ook mikpunte gestel vir die stryd teen beroepsiektes soos geraasdoofheid en silikose, ’n ongeneeslike longkwaal. Luidens navorsing word tot ’n derde van alle ondergrondse goudmynwerkers hierdeur geraak. In 2009 het die Nasionale Instituut vir Beroepsiektes skokkende syfers bekendgemaak oor die voorkoms van longsiektes wat nadoods gediagnoseer word.
Volgens die instituut ly meer as 25% van alle mynwerkers en oudmynwerkers aan tuberkulose, terwyl 237 uit 1 000 mynwerkers aan silikose gely het. Daarbenewens hetmeer as 41% van vroulike oudmynwerkers tekens van asbestose getoon.




