SITA-herstrukturering ʼn verdoeselde afleggingsproses – Solidariteit

Briewe wat die State Information Technology Agency (SITA) aan verskeie lede van Solidariteit oorhandig het, toon duidelik dat die organisasie se omstrede herstruktureringsproses niks anders as die eerste fase van ʼn grootskaalse afleggingsproses is nie, het die vakbond Solidariteit vandag gesê. Talle Solidariteit-lede is skriftelik ingelig dat hulle poste “oortollig” is in SITA se nuwe struktuur en dat hulle vir nuwe poste, wat in Januarie geadverteer is, moet aansoek doen. Solidariteit se herhaaldelike eis om oor die herstrukturering te konsulteer, het egter op dowe ore geval en die vakbond is besig om ʼn regsmening in te win wat moontlik tot regstappe teen SITA sal lei.

“SITA weier nie net om die kriteria wat gebruik is om sekere poste “oortollig” te verklaar, bekend te maak nie, maar het ook hulle werknemers se diensvoorwaardes eensydig gewysig. ʼn Eensydige wysiging van diensvoorwaardes, sonder dat daar met die werknemers gekonsulteer word, is volgens gemenereg onbillik en kom neer op kontrakbreuk,” sê Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit. “ʼn Herstruktureringsproses is ʼn algemene voorloper vir afleggings en dikwels ʼn manier wat werkgewers gebruik om gedwonge afleggings te beperk. SITA weier egter om die moontlikheid van toekomstige afleggings te erken. Die feit dat SITA boonop nie die kriteria wat hulle gebruik het vir die nuwe posplasings wil bekendmaak nie, wys dat hulle hoegenaamd nie ʼn deursigtige proses volg nie. Solidariteit wil graag betrokke raak om as waghond op te tree en seker te maak dat diskriminerende kriteria nie gebruik word nie,” voeg hy by.

Intussen het SITA ontken dat hy afleggings oorweeg en Solidariteit skriftelik meegedeel dat hy nie met die vakbond gaan konsulteer nie, omdat Solidariteit nie kollektiewe verteenwoordiging daar het nie. “SITA se skriftelike kennisgewings aan werknemers dat hulle poste oorbodig is, het egter reeds die verwagting geskep dat afleggings wel ʼn moontlikheid gaan wees indien hierdie personeel nie in ander poste geplaas kan word nie,” meen Croucamp.

Croucamp beklemtoon dat artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge baie duidelik is. Kragtens dié artikel moet ʼn maatskappy wat afleggings oorweeg met alle geregistreerde vakbonde wie se lede deur die beplande afleggings geraak kan word, konsulteer, ongeag hul ledetal by die maatskappy. “Artikel 189 maak dit duidelik dat ʼn kollektiewe ooreenkoms nie gebruik kan word om lede van ander vakbonde uit te sluit wanneer werknemers se werk en inkomste op die spel is nie,” meen Croucamp. “Om dit te doen, is om werknemers se reg op vrye assosiasie blatant te ignoreer,” voeg hy by. “Solidariteit het die reg en ʼn plig om sy lede, ongeag hul getal, in die proses by te staan en ons sal veg om daardie reg op te eis,” sê Croucamp. “Dit is in alle SITA-werknemers en -kliënte se belang dat die proses deursigtig afgehandel word, anders gaan dienslewering beslis daaronder lei.”

* SITA-werknemers wat deur die herstruktureringsproses geraak is en by Solidariteit wil aansluit om die vakbond se hulp in die proses te kry, kan ʼn e-pos aan sita@solidariteit.co.za stuur.

Moira-Marie Kloppers

Woordvoerder: Solidariteit