Die vakbond Solidariteit het vandag bevestig dat hy die afgelope maand vier artikel 189-afleggingskennisgewings, van Sappi se Ngodwana-, Enstra-, Richardsbaai- en Tugela-meule, ontvang het. Ingevolge die kennisgewings sal 959 werknemers moontlik geraak word. Solidariteit is tans in ernstige samesprekings met die werkgewer gewikkel om die vier prosesse te konsolideer sodat dit op een slag by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) hanteer kan word.
Volgens Ilze Nieuwoudt, woordvoerder van Solidariteit, het die vakbond versoek dat die konsultasies van die vier afleggingsprosesse gekonsolideer word, sodat die proses bespoedig en die tyd van spanning en onsekerheid vir die werknemers verkort kan word. “Solidariteit sal in die konsultasies alternatiewe vir die afleggings ondersoek en die getal mense wat deur die afleggings geraak word, probeer verminder,” sê Nieuwoudt. Sappi het intussen te kenne gegee dat hulle dié voorstel aanvaar en dat die gesamentlike konsultasieproses vroeg in Januarie sal begin.
Die jongste vlaag afleggings volg op ʼn herstruktureringsproses in die maatskappy se menslikehulpbron-, aankope- en kommunikasie-afdeling in Oktober en November vanjaar. Dié proses sou ongeveer 200 Sappi-werknemers beïnvloed. Solidariteit kon daarin slaag om die getal Solidariteit-lede wat deur die afleggings geraak sou word, tot slegs een te beperk. Intussen moes die maatskappy vroeër vanjaar 156 werknemers aflê weens die sluiting van sy Adamas-meule.
“Suid-Afrika se bosbou- en papier-en-pulpbedryf is onder geweldige druk omdat dieselfde produkte baie goedkoper ingevoer kan word, veral uit China, ” verduidelik Nieuwoudt. Die vakbond het vroeër vanjaar reeds gewaarsku dat die afleggings by Sappi waarskynlik net die eerste van ʼn vlaag afleggings by die maatskappy en in die bedryf is. “Die grootskaalse afleggings wat nou hier begin, het egter vroeër gebeur as wat verwag is en die tydsberekening daarvan, met die Kersseisoen en die nuwe skooljaar wat om die draai is, is betreurenswaardig.”
Moira-Marie Kloppers
Woordvoerder: Solidariteit


