Beroepsgesondheid en -veiligheid


Solidariteit Regsdienste Beroepsgesondheid en -veiligheid-afdeling:

Die Beroepsgesondheid en -Veiligheidafdeling se doel is die beskerming van die regte en belange van Solidariteit-lede in die strewe na ‘n gesonde en veilige werkplek. Die afdeling behartig ook kwessies met betrekking tot beserings aan diens.  Dit is een van die belangrikste skakels wat deel vorm van Solidariteit se fundamentele waardes en waardeketting wat die omvattende beskerming van ons lede behels. Weens die industriële en gevaarlike aard van die bedrywe waarin Solidariteit-lede werksaam is, is die beskerming van ons lede in die werksplek vóór sowel as ná werkplekbeserings van uiterste belang.

Die belangrikste funksie van BGV is eerstens om beroepsbeserings en -siektes in die werkplek te voorkom. Tweedens gaan dit oor die beskerming van die werknemer teen en die vermindering van die negatiewe gevolge van beroepsbeserings en -siektes nadat dit plaasgevind het. Laasgenoemde funksie word hoofsaaklik verrig deur die Beserings-aan-Diens (BAD)-kantoor van die BGV-afdeling.

Die wet op vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, Wet 130 van 1993, maak voorsiening vir die vergoeding van arbeidsongeskiktheid wat veroorsaak word deur beroepsbeserings en -siektes opgedoen deur werknemers in die loop van hulle diens, of vir dood as gevolg van sodanige beserings of siektes; en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee in verband staan.

Wie is ‘n werknemer?
Enige persoon wat ‘n dienskontrak met ‘n werkgewer aangegaan het. Die kontrak kan skriftelik, geïmpliseerd of uitdruklik wees en is van toepassing op tydelike en permanente werknemers.

Wie is ‘n werkgewer?
Enige persoon wat ‘n werknemer in diens het, die staatsdiens ingesluit.


Beroepsbeserings:

Wat is ‘n ongeval?
Dit is ‘n insident waarvan die tyd, datum en plek aangewys kan word en wat “uit ‘n werknemer se diens ontstaan en in die loop daarvan plaasvind en wat ‘n persoonlike besering, siekte of die dood van die werknemer tot gevolg het”.

Watter ongevalle moet aangemeld word?
Alle ongevalle of beweerde ongevalle wat mediese uitgawes of afwesigheid van meer as drie dae tot gevolg het, moet binne sewe dae by die Vergoedingskommissaris aangemeld word.

Versuim om dit aan te meld, is ‘n kriminele oortreding en die Vergoedingskommissaris (VGK) kan die werkgewer penaliseer deur hom aanspreeklik te hou vir die volle mediese koste.

Wat behels die prosedure wat die werkgewer moet volg om ‘n eis aan te meld?

  1. Voltooi Deel A van die WCL 2-vorm: Employers Report of an Accident, onderteken dit en vul die datum in.
  2. Skeur Deel B af en stuur dadelik aan die betrokke dokter of hospitaal.
  3. Voltooi Deel A volledig.
  4. Stuur die voltooide WCL 2 (beide bladsye) sonder versuim tesame met die Eerste Mediese Verslag (WCL 4) en ‘n gewaarmerkte afskrif van die beseerde werknemer se identiteitsdokument aan:Die Vergoedingskommissaris
    Posbus 955
    PRETORIA
    0001

Wanneer word die eisnommer toegeken?
Sodra die Vergoedingskommissaris bogenoemde twee vorms ontvang het, sal die eis oorweeg word, ‘n eisnommer aan die eis toegeken word en die eisnommer aan die werkgewer per poskaart gestuur word.

Wanneer word die eis gesluit?
Volgens die Wet word die eis gesluit sodra die behandelende geneesheer ‘n Finale Mediese Verslag uitreik wat aandui dat die toestand van die beseerde gestabiliseer het, of andersins ‘n verslag 24 maande na die datum van ongeval.

Wat van verdere dokumentasie?
Maandeliks moet Vorderingsverslae (WCL 5) by die VGK ingedien word en sodra die beseerde werknemer se toestand gestabiliseer het en behandeling voltooi is, ook die Finale Mediese Verslag (WCL 5).

Gaan ek ‘n salaris ontvang?
Dit is die verantwoordelikheid van die werkgewer om die werknemer vir Tydelike Algehele Arbeidsongeskiktheid te vergoed vir die eerste drie maande ná die datum van die ongeval. Tydelike Algehele Arbeidsongeskiktheid word bereken teen 75% van die salaris ten tyde van die ongeval en is onderhewig aan minimum en maksimum bedrae soos afgekondig in die Staatskoerant. Die Vergoedingskommissaris sal dit aan die werkgewer terugbetaal.

Ná die eerste drie maande is dit die keuse van die werkgewer om voort te gaan om die salaris te betaal. Indien die werkgewer besluit om dit nie langer te betaal nie, kan Tydelike Algehele Arbeidsongeskiktheid by die Vergoedingskommissaris geëis word deur die vorms WCL 132 (Beëdigde verklaring), WCL 5 (Vorderingsverslag) en WCL 6 (Hervattingsverslag) in te dien. Tydelike Algehele Arbeidsongeskiktheid is nie onderhewig aan belasting nie.

Kan die eis heropen word?
Indien verdere mediese behandeling benodig word, kan ‘n aansoek om die heropening van die eis ingedien word. Die VGK sal dan beslis of aanspreeklikheid vir verdere voordele kragtens die Wet aanvaar word. Die voorgeskrewe Heropeningsvorm moet deur die behandelende geneesheer voltooi en ingedien word. Die werknemer is verantwoordelik vir die koste van die eerste konsultasie en diagnostiese prosedure.


Vorms vir Beroepsbeserings:


Beroepsiektes:

Wat is ‘n beroepsiekte?
Enige siekte wat uit ‘n werknemer se diens ontstaan of opgedoen word in die loop daarvan en wat in Aanhangsel 3 van die Wet vervat word.

Hoe moet dit aangemeld word?

Die werkgewer moet skriftelik in kennis gestel word van die diagnose van die beroepsiekte. Die werkgewer moet dit dan op die voorgeskrewe vorm WCL 1 binne 14 dae by die VGK aanmeld. Die datum van diagnose sal as die aanvangsdatum van die beroepsiekte beskou word.

Watter dokumentasie word benodig?
Die WCL 1-Aanmeldingsverslag, WCL 22 Eerste Mediese Verslag (Beroepsiektes) en gesertifiseerde afskrif van die ID moet telkens vergesel word van mediese verslae soos van toepassing op die spesifieke toestand, byvoorbeeld:

Industriële Geraasdoofheid:
Twee diagnostiese oudiogramme
Die OD 2-vorm wat die blootstelling aantoon

Gehoorapparaat:
Drie kwotasies van verskillende verskaffers
Een motivering

Dermatitis:
Finale mediese verslag
WCL 53-dermatologiese verslag

Beroepsasma:
Longfunksietoets
Finale mediese verslag

Asbestose, Silikose en Pneumokoniose:
Blootstellingsgeskiedenis WCL 110
Longfunksietoets
X-strale
Finale mediese verslag


Vorms vir Beroepsiektes: