Deur Johan Roos
Vraag: “Ek is dissiplinêr aangekla en weet nie wat om in die verhoor te verwag nie!”
Antwoord: Dit is eerstens belangrik dat jy as werknemer die klag(te) teen jou skriftelik ontvang en in ʼn taal wat jy verstaan. Dan moet jy in kennis gestel word van die tyd en plek van die verhoor. Die werkgewer moet jou tyd gun om ʼn verteenwoordiger te kry. So ʼn verteenwoordiger mag ʼn medewerknemer of ʼn vakbondverteenwoordiger van ʼn erkende vakbond in die werkplek wees.
Jy moet ook gevra word om te pleit. Indien jy egter skuldig pleit, sal jy die saak nie verder kan voer nie.
Jy moet ʼn redelike tyd gegun word om jou voor te berei vir die verhoor. “’n Redelike tyd” word gewoonlik gekoppel aan die moeilikheidsgraad van die verhoor. Indien die werknemer volhou dat die toegelate tyd nie voldoende is nie, moet hy/sy versoek dat die verhoor uitgestel word, welke besluit by die voorsittende beampte berus.
Jy moet die geleentheid gegun word om die werkgewer se getuies te kruisondervra, maar dit is ook belangrik dat jy jou weergawe van die saak aan húlle stel. Jy sal enige verskil(le) tussen die twee weergawes moet kan verduidelik.
Ten slotte moet die voorsittende beampte jou die geleentheid bied om jou kant van die saak aan die werkgewer te stel — met bewyse, indien nodig.
Na afloop van die verhoor moet die werkgewer die bevinding van die verhoor aan jou oordra, verkieslik skriftelik. Indien jy ontslaan word, moet die werkgewer die rede(s) vir sy besluit verstrek. Indien jy meen dat jy onbillik ontslaan is en die saak na die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) wil verwys, moet jy dit binne 30 dae doen.
Posted in: Dissiplinêre verhoor




