Die innerlike versus die uiterlike

“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank” (Matt 5:21-22).

 

Die Fariseërs in Jesus se leeftyd (soos vele mense vandag wat baie godsdienstig is sonder om werklik in ʼn verhouding met die Here te staan) was tevrede met uiterlike godsdienstige handelinge. Wat “binne” aangegaan het, was van minder belang. Hulle het  godsdiens ’n “uitwendige” saak gemaak.

Hulle het gelet op die uiterlike, op die vrug van die sonde. Daarvoor het hulle hul reëls, strafprosesse en howe in plek gehad. Hulle het byvoorbeeld presies geweet wat hulle sou doen met ’n vrou wat betrap is dat sy owerspel pleeg. Solank jy die regte dinge op die regte tyd gedoen het – soos om op die Sabbat na die tempel toe te gaan, bydraes vir die armes te gee en gereeld te vas – was alles in orde.

Jesus het egter eerstens klem gelê op die innerlike, op dit wat in die hart van die mens aangaan. Hy het geweet dat sonde se oorsprong eintlik in die hart van die mens lê. Net so word die goeie uit die hart gebore. Dis waarom Hy daarop klem gelê het dat bekering ʼn verandering van die mens se hart moet wees. Vir Hom is dit belangriker dat jou hart reg moet wees eerder as jou handelinge, want dit is moontlik om die regte dinge te doen al is jou hart nie reg nie.

Moord is strafbaar, sê Jesus, maar haat in jou hart teenoor jou broer is net so verkeerd voor God. Net so, sê Jesus op ʼn ander plek, is owerspel sonde, maar ook wanneer jy dit net in jou hart bedink.

 

Gebed: “Soos Dawid, wil ek bid dat U my hart sal deursoek sodat ek rein voor U kan wees, Here my God. Amen.

 

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

 

Nog ʼn groot daling in brandstofpryse verwag – Solidariteit

18 November 2014

 

Die prys   van petrol kan moontlik op 3 Desember met meer as 70c per liter daal terwyl   die groothandelprys van diesel met sowat 50c kan daal, het die Solidariteit   Navorsingsinstituut (SNI) vandag gesê. Met die verwagte daling, sal die prys   van petrol laer wees as wat dit ʼn jaar tevore was. Dit sal die eerste keer in   vyf jaar wees dat die prys van petrol jaar-op-jaar laer is.

 

Paul   Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI, het verduidelik dat, soos in   Oktober, die swakker rand tans ʼn daling in plaaslike brandstofpryse teëwerk.   Hy het gesê die rand het in Oktober gemiddeld teen ongeveer R11,12 teenoor   die Amerikaanse dollar verhandel. Tot dusver in November het dit marginaal   swakker teen gemiddeld R11,14 verhandel.

 

“Gelukkig   het internasionale petroleumprodukpryse, die ander faktor wat plaaslike   brandstofpryse bepaal, tot dusver deur die loop van November oliepryse verder   afwaarts gevolg. Die prys van Opul-olie, wat deur die loop van Oktober $86,29   per vat was, verhandel tot dusver in November bykans 10% laer op gemiddeld   $77,67 per vat,” het Joubert gesê.

 

“Die   verwagte daling sal die prys van 93-oktaan petrol in Gauteng op ongeveer   R12,28 te staan bring. Dit sal laer wees as die prys van R12,97 per liter wat   ʼn jaar tevore, in Desember 2013, gegeld het. In November 2009 was petrol   R1,30 goedkoper as in November 2008, maar in die daaropvolgende vyf jaar was   die prys van petrol deurentyd hoër as ʼn jaar tevore,” het Joubert gesê.

 

Joubert het   aangedui dat die relevante tydperk vir die berekening van Desember se   plaaslike brandstofpryse nog tot en met Donderdag 27 November duur. Hy het   gewaarsku dat indien die rand óf oliepryse van nou tot dan groot fluktuasies   ervaar, die prysverandering in Desember beduidend van hierdie voorspelling   kan afwyk. Die kans vir ʼn prysstyging in Desember is egter feitlik nul. Die   departement van energie sal die finale aankondiging oor die   brandstofprysveranderinge op 28 November doen.

 

Paul   Joubert

Senior   ekonomiese navorser: Solidariteit

 

 

Solidariteit-lid níé skuldig aan rassisme

11 November 2014

 

Die   Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het beslis dat ʼn   voormalige hoofstaatsaanklaer by die Klerksdorpse landdroshof, Jacques   Swanepoel, onbillik deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ontslaan is,   het die vakbond vandag gesê. Swanepoel is lid van Solidariteit.

 

Dit volg   nadat Revana Jacobs, senior staatsaanklaer, 12 aanklagtes van onder meer   rassisme teen Swanepoel, haar destydse bestuurder, aanhangig gemaak het.

 

Die saak   dateer uit 2007 toe ʼn interne verslag saamgestel is om bewerings en klagtes   van rassisme by die Klerksdorpse landdroskantoor te ondersoek. Die verslag is   hoofsaaklik saamgestel om aanklagtes teen Swanepoel te ondersoek. Hy is in   2011 weens die inhoud van die verslag ontslaan.

 

Volgens   Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het die arbiter in sy   uitspraak beslis dat die aanklagtes teen Swanepoel geen geldige gronde het   nie. Daar is verder beslis dat die verslag, bekend as die Sibeko-verslag,   geen aanbevelings oor moontlike dissiplinêre aksie teen Swanepoel bevat het   nie en dat dit in elk geval nie as gronde vir sy ontslag kon dien nie.

 

Kruger het   verder aangedui dat dit uit Jacobs se getuies geblyk het dat sy ʼn verskuilde   agenda met haar aanklagtes teen Swanepoel gehad het. Jacobs is in 2006 vanaf   Pietermaritzburg na die Klerksdorpse landdroshof verplaas en was ongelukkig   oor die verplasing. “Uit Jacobs se getuies het dit geblyk dat sy ongelukkig   was oor haar verplasing en dat sy met alle mag terugverplaas wou word. Jacobs   het Swanepoel se sogenaamde rassistiese optrede as die rede vir haar   ongelukkigheid by die Klerksdorpse landdroskantoor aangevoer. Dit het later   egter duidelik geword dat Jacobs se aantygings van rassisme geen substansie   gehad nie,” het Kruger gesê.

 

Kruger het   gesê die arbiter het onder meer beslis dat 46 maande se salaris aan Swanepoel   betaal moet word. Daar is verder beslis dat Swanepoel in sy ou pos   heraangestel moet word. “Die saak het heelwat media-aandag geniet en ons lid   se loopbaan en reputasie het in die proses skade gely. Sy naam is nou   eindelik in ere herstel,” het hy bygevoeg.

 

Johan   Kruger

Adjunk-hoofsekretaris:   Solidariteit

 

Inge   Strydom

Woordvoerder:   Solidariteit

 

 

Solidariteit bevestig dat ArcelorMittal afleggingskennisgewing uitgereik het

10 November 2014

 

Die vakbond   Solidariteit het vandag bevestig dat ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) verlede   week ʼn artikel 189-kennisgewing aan 200 werknemers by sy aanleg in   Vanderbijlpark gestuur het. Ingevolge die kennisgewing kan die betrokke werknemers   vir vrywillige skeidingspakkette aansoek doen.

 

Volgens   Johan Venter, organiseerder in Solidariteit se Metaalbedryf, voer Amsa in die   kennisgewing aan dat hy die afgelope jare toenemende bedryfsprobleme en   -uitdagings ondervind het.

 

Solidariteit   het die volgende feite rakende die afleggingsproses uitgereik:

 

-       Ingevolge die afleggingskennisgewing   wat Solidariteit verlede week van Amsa ontvang het, word 200 werknemers deur   hierdie proses geraak.

-       Die afleggingsproses raak tans slegs   werknemers op bestuursvlak. Ambagslui en/of werknemers of laer posvlakke word   nie deur die proses geraak nie.

-       Solidariteit is deur Amsa se bestuur   genooi om die afleggingsproses namens sy lede te fasiliteer. Dit is nog nie   duidelik presies hoeveel Solidariteit-lede deur die proses geraak word   nie.

-       Solidariteit kan bevestig dat Amsa   se bestuur pogings aangewend het om die kwessies en uitdagings wat tot die   afleggingsproses gelei het die hoof te bied. Die bestuur het, byvoorbeeld,   aangedui dat hulle met die regering vergader het om moontlike alternatiewe   rakende koolstofbelasting te bespreek.

-       Paul O’Flaherty,   Amsa se nuwe hoof uitvoerende beampte, het aangedui dat hy sal toesien dat ʼn   regrukstrategie vir die maatskappy binne die volgende nege maande van stapel   gestuur word.

 

Venter het   bygevoeg dat Solidariteit daarna uitsien om met die maatskappy saam te werk   om in die komende maande groter sekerheid vir die betrokke werknemers te   bied. “Solidariteit sal die bestuur van voorstelle en strategieë voorsien in   ʼn poging om die maatskappy te red en die negatiewe impak van die proses op sy   lede te beperk,” het hy gesê.

 

Johan     Venter

Organiseerder:     Solidariteit

 

Marius     Croucamp

Hoof:     Metaalbedryf, Solidariteit

 

 

Sy las is lig

 “My juk is sag en my las is lig” (Matt 11:30).

 

ʼn Paar jaar gelede het ek weens sekere keuses wat ek gemaak het en ʼn sameloop van omstandighede ’n punt in my lewe bereik waar alles vir my te veel geraak het. Die bediening het so veeleisend geraak dat ek gevoel het ek kon dit nie meer hanteer nie. Terwyl ek een dag in gebed geworstel het oor hierdie swaar las wat ek moes dra, was dit asof die Here deur hierdie Skrifgedeelte met my gepraat het: “Dis nie my las wat jy dra nie, want my las is nie swaar nie.” Toe het hierdie vers meteens vir my ʼn persoonlike werklikheid geword! Sy las is lig! Hierdie belofte kom uit sy eie mond!

ʼn Juk wat nie pas nie en ʼn swaar las loop hand aan hand. ʼn Os met ’n juk wat hom seermaak omdat dit hom nie pas nie, kan nie voluit trek nie, want hy kry seer. Ek onthou ʼn geleentheid toe ek as ʼn jong seuntjie saam met my pa geloop het en op ʼn afstand ʼn werker sien wat met ʼn skoffelploegie agter ʼn perd loop. Die perd was merkbaar ongemaklik. Kort-kort het die man die perd met die sweep bygekom. Dan het die perd harder probeer trek, net om dadelik weer terug te hou.

        

My pa, wat op ʼn plaas grootgeword het, het dadelik gemerk dat die tuig nie reg was nie. Ons het nader geloop en, ja, die tuig was heeltemal skeef voor die perd se bors. Trouens, hy was al bloederig geskuur. ʼn Normale las het vir die perd ondraaglik geraak omdat die tuig hom nie gepas het nie. Ná my pa die tuig reggestel het, kon die perd gemaklik, sonder om slae te kry, die las verder trek.

Miskien is jou las swaar omdat jou juk jou nie pas nie.

 

Gebed: “Here, help my om die regte besluite te neem oor die laste in my lewe. Amen.

 

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

Die juk van Jesus (4)

 

“My juk is sag en my las is lig” (Matt 11:30).

 

Jesus se juk is sag – dit beteken letterlik op maat gemaak (“tailor-made”) – presies reg vir jou. Dis nie ʼn “een grootte pas almal”-juk nie. Jesus verwag nie van jou iets wat buite jou vermoë en bekwaamheid lê nie. Hy verwag nie ʼn vyftalent-prestasie as Hy jou met twee talente geseën het nie.

In sy wysheid het Hy aan elkeen die vermoë gegee om te doen wat Hy van ons verwag. Hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Kor 10:13). Niemand ken immers ons beperkings beter as Hy nie. Die Bybel sê in Psalm 103:14: “Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.”

Dink so ʼn bietjie aan die “jukke” in jou lewe. Dis veilig om te sê dat as jy ʼn juk het wat jou seermaak, dit nie Jesus se juk is nie. Daar is jukke wat die duiwel op ons lê. Daar is jukke wat ander mense op ons lê. Daar is natuurlik ook die jukke wat ons op onsself lê – maar nie een hiervan is Jesus se juk nie.

Ek het eenmaal by ʼn mannekamp aan die groot getal mans gevra om ʼn groepbespreking te hou oor die jukke in hulle lewe – onder meer wat hul loopbaan betref. Wie voel dat hulle nie hul talente in hul beroep gebruik nie? Wie voel dat hulle nie die Here se juk dra nie? Meer as helfte het te kenne gegee dat dit in hul lewe die geval is. Ongeag in watter konteks van jou lewe jy ook al voel dat jy ʼn juk dra wat die Here nie op jou gelê het nie,  Jesus nooi jou nou om na Hom toe te kom en jou juk wat nie goed pas nie, vir Syne te verruil.

 

Gebed: “Ek bid gelowig dat U hierdie juk wat my so seermaak met U juk sal vervang, Here. Amen.

 

Outeur: Dr. Isak Burger: President of AFM of SA

Strukturele probleme van silo lankal onder Eskom se aandag – Solidariteit

3 November 2014

 

Eskom is al   sedert Januarie vanjaar bewus van die silo wat eergister by sy   Majuba-kragstasie inmekaargestort het se strukturele probleme, het die   vakbond Solidariteit vandag gesê. Solidariteit neem Eskom kwalik omdat hy nie   daarvan werk gemaak het nie, en het die maatskappy van nalatigheid beskuldig.

 

Solidariteit   het verneem dat Eskom-werkers al sedert Januarie resonansies van die silo   monitor. Daar is toe al aan die bestuur van die maatskappy gerapporteer dat   die silo weens die toenemende vibrasie tekens van agteruitgang toon.

 

Volgens   Deon Reyneke, bedryfshoof van die energiebedryf by Solidariteit, is daar in   Junie vanjaar, en weer drie weke voor die ineenstorting, vasgestel dat die   vibrasie van die silo vererger het. “Vibrasie van ʼn struktuur wat uit beton   gemaak is, is uiters problematies. Die vibrasie het swak plekke in die silo   veroorsaak of vererger wat, soos wat die vibrasie toegeneem het, uiteindelik   tot die ineenstorting gelei het,” verduidelik Reyneke.

 

Reyneke   meen ook dat die tydelike maatreëls wat nou toegepas word, veiligheid by die   kragstasie in gedrang bring. “Eskom plaas sy werknemers in gevaar deur sy   nalatigheid. Om al ses eenhede van die kragstasie ten volle van steenkool te   voorsien, moet honderde vragmotors per uur steenkool by tydelike vervoerbande   digby die oonde aflaai. Buiten die gevaar van vragmotorongelukke en die hoër   bedryfskoste, veroorsaak dit ook ʼn brandgevaar,” sê Reyneke.

 

Deon   Reyneke

Hoof:   Energiebedryf, Solidariteit

 

Telkom-afleggings: 96 werknemers steeds nie geplaas nie

3 November 2014

 

Die vakbond   Solidariteit het vandag gesê die plasingsproses rondom die 104   Telkom-werknemers, wat op 1 Oktober afleggingskennisgewings ontvang het, is   afgehandel. Uit die genoemde werknemers is 96, waarvan 14 Solidariteit-lede   is, nie geplaas nie.

 

Telkom het   in ʼn skrywe aan Solidariteit gesê vakbonde mag hul lede, in die proses   bystaan om, na gelang van die lede se vaardighede en ervaring, vir   alternatiewe poste in die nuwe, voorgestelde struktuur aansoek te doen. Dié   aansoeke moet voor of op 7 November ingedien word.

 

Volgens   Marius Croucamp, hoof van die kommunikasiebedryf by Solidariteit, sal   Solidariteit sy lede na die beste van sy vermoë bystaan in die proses om vir   alternatiewe poste aansoek te doen. Hy sê Solidariteit is van plan om in die   komende maand verdere samesprekings oor die plasings met Telkom te voer.

 

“Ons sal   graag wil toesien dat al ons lede in alternatiewe poste geplaas word en as   hulle weens onvoldoende kwalifikasies en opleiding nie geplaas word nie, dat   Telkom hulle die geleentheid sal gee om die nodige opleiding te ontvang,” sê   Croucamp.

 

Plasings   by MTN ook gefinaliseer

 

Volgens   Croucamp is die plasingsproses rondom MTN se afleggingsproses reeds   gefinaliseer. “Die meeste van ons lede, wat deur die afleggings geraak is,   het vrywillige skeidingspakkette aanvaar, terwyl enkele lede in alternatiewe   poste geplaas is. Van ons lede wat om alternatiewe poste aansoek gedoen het,   is egter nog midde-in die onderhoudproses. Ons is steeds nou betrokke by die   proses en sal ons lede bystaan waar nodig,” sê Croucamp. Hy het bygevoeg die   proses behoort teen einde November afgehandel te wees.

 

Cell C   volg koue, kliniese benadering

 

Croucamp sê   agt Solidariteit-lede het reeds om alternatiewe poste aansoek gedoen, hoewel   sommige nog op terugvoering vanaf bestuur wag. Boonop het 23 reeds voortydige   skeidingspakkette aanvaar. “Cell C volg ʼn koue en kliniese benadering tot die   afleggingsproses, maar het tot dusver na die letter van die wet opgetree,”   verduidelik Croucamp.

 

Marius   Croucamp

Hoof:   Metaal- en ingenieursbedryf, Solidariteit

 

 

Silo-krisis: Solidariteit vermaan Eskom oor vaardigheidstekort

2 November 2014

 

Die   vakbond Solidariteit het die kragreus Eskom vandag vir die soveelste keer   gewaarsku oor sy ernstige vaardigheidstekort en die onvoldoende   instandhouding van sy kragstasies. Solidariteit het Eskom veroordeel en gesê   dat die maatskappy vir etlike jare reeds teen die vaardigheidstekorte   gewaarsku word en dat daar ʼn uittog van kundiges uit die maatskappy is, maar   dat hierdie waarskuwings op dowe ore geval het.

 

Solidariteit   se reaksie volg nadat ʼn silo met tonne steenkool by Eskom se Majuba-kragstasie   gister ineengestort het en die ganse land nou as ʼn gevolg daarvan, soos   gedurende die landswye kragkrisis in 2008, beurtkrag moet verduur.

 

Volgens   Deon Reyneke, hoof van die energiebedryf by Solidariteit, waarsku die vakbond   Eskom al sedert 2007 oor die gevolge wat sy ernstige vaardigheidstekort en   die neem van kortpaaie tydens roetine-instandhouding vir die maatskappy en   die ganse Suid-Afrika inhou. Hy sê Solidariteit eis nou die nodige optrede   van Eskom.

 

“Die tyd   het aangebreek dat Eskom verantwoording moet doen vir sy onwilligheid om aan   hierdie kwessies aandag te skenk. Solidariteit sal Eskom daarom versoek om ʼn   behoorlike opname van sy huidige vaardigheidspoel te doen en om die ernstige   gebreke daarin die hoof te bied. Eskom kan nie nóg ʼn krisis soos gister   bekostig nie,” sê Reyneke.

 

Daarbenewens   blyk dit dat onproduktiwiteit van werknemers ook ʼn groot struikelblok vir die   maatskappy is. Dit het byvoorbeeld onlangs onder Solidariteit se aandag gekom   dat slegs ongeveer 13 000 van Eskom se 43 000 werknemers ten volle   produktief is. Reyneke meen dít en ander kwessies sal voortdurend voor Eskom   se deur gelê word totdat die maatskappy daadwerklik optree om dit op te los.

 

Solidariteit   waarsku al ’n geruime tyd lank oor die omvang van die tekort aan ingenieurs   en ambagslui in Suid-Afrika. Boonop word ambagslui nie voldoende daarvoor   vergoed dat hulle in die behoefte aan skaars vaardighede voorsien nie.

 

Deon   Reyneke

Hoof:   Energiebedryf, Solidariteit

 

Solidariteit lê klagte by VN teen die Suid-Afrikaanse regering oor die nienakoming van VN-resolusie

28 Oktober 2014

 

Die vakbond   Solidariteit het vandag ʼn klagte teen die Suid-Afrikaanse regering by die   Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van   rassediskriminasie (CERD) gelê. In die klagte word gevra dat die VN die   Suid-Afrikaanse regering vermaan oor die nienakoming van die prosedurele   vereistes van die VN-konvensie vir die uitwissing van alle vorme van   rassediskriminasie.

 

Volgens die   konvensie moet die Suid-Afrikaanse regering elke twee jaar verslag doen oor   wat die regering doen om aan die konvensie te voldoen, maar die   Suid-Afrikaanse regering het in 2006 laas ʼn verslag ingedien.

 

ʼn   Soortgelyke klagte gaan terselfdertyd by die Suid-Afrikaanse   Mensregtekommissie (MRK) ingedien word. Die MRK is deur die Suid-Afrikaanse   regering aangewys as nasionale liggaam wat namens CERD as waghond in   Suid-Afrika moet optree. Solidariteit versoek die MRK om die regering te   vermaan oor die nienakoming van die resolusie en, indien die regering verder   daarmee in gebreke bly om ingevolge die magte van die MRK ʼn aansoek by die   hooggeregshof te bring, om die regering te dwing om sy statutêre plig na te kom.

 

Solidariteit   het ook aangekondig dat, sodra die regering sy verslae gaan indien, hy ʼn   skaduverslag gaan indien wat gaan toon dat die regering se program van   regstellende aksie nie in ooreenstemming met die VN-resolusie is nie. Die   resolusie maak voorsiening vir burgerlike organisasies om skaduverslae in   reaksie op regeringsverslae in te dien. Volgens Solidariteit moet die   regering eers gedwing word om verslae in te dien voor hy kan voortgaan met ʼn   skaduverslag.

 

Solidariteit   beplan ook verder om ’n formele petisie by die VN in te dien waarin   Solidariteit sal aanvoer dat die Suid-Afrikaanse regering se absolute fokus   op rassedemografie nie die bedoeling van die VN-konvensie is nie en dat die   regering nie aan die substantiewe vereistes van die resolusie voldoen nie.   Hierdie petisie sal sterk steun op die Renate Barnard-gevallestudie, maar sal   ook wyer as dié geval fokus. Die petisie moet by die MRK, as agent van die VN   ingedien word. Solidariteit beplan om die formele petisie in die eerste   kwartaal van 2015 in te dien. Die vakbond beplan om steun vir die petisie oor   ʼn breë spektrum van Suid-Afrikaners te werf.

 

“Om   Suid-Afrika se regstellendeaksieprogram teen VN-resolusies te toets is om dit   teen die wêreld se beste praktyke te toets. Om seker te maak Suid-Afrika   voldoen aan internasionale norme beteken dus om lojaal teenoor Suid-Afrika te   wees. Ons prima facie-saak is dat Suid-Afrika nie voldoen aan internasionale   vereistes nie en dat die land skuldig is aan onbillike rassediskriminasie.   Suid-Afrika maak dit egter baie moeilik om internasionale vergelykings te   tref as die regering nooit verslae indien nie,” het Dirk Hermann,   bestuurshoof van Solidariteit gesê.

 

“Ons het in   Junie vanjaar vir die eerste keer met die regering gekorrespondeer toe ons   die versekering gegee is dat die regering binnekort sy verslag gaan indien.   Ons het intussen ook ’n brief aan die minister van justisie en korrektiewe   dienste, Michael Masutha, gerig waarin ons die regering vermaan het oor die   nienakoming van die VN-resolusie. Volgens inligting waaroor ons beskik, het   die regering die verslae tot 2011 opgestel, maar die verslae is nog steeds   nie ingedien nie. Selfs al word die verslae nou ingedien, is Suid-Afrika   reeds laat met sy 2013-verslag.

 

Die   prosedurele nienakoming van ʼn resolusie is ʼn ernstige oortreding. Die doel   van die verslae is dat daar internasionale toesig kan wees oor lidlande se   verbintenis tot die nakoming van resolusies wat hulle bekragtig het. Indien   die regering nie verslag doen nie, ontneem dit ook plaaslike burgerlike   organisasies, soos Solidariteit, om ʼn behoorlike waghondrol te speel,” het   Hermann gesê.

 

Solidariteit   se VN-veldtog volg op die konstitusionele hof se onlangse uitspraak teen   Renate Barnard, ’n voormalige luitenant-kolonel van die SAPD, ná haar stryd   van nege jaar teen die wyse waarop die SAPD regstellende aksie toegepas het.   Sy was twee maal die beste kandidaat vir ’n pos waarvoor sy aansoek gedoen   het, maar is weens die kleur van haar vel telkens nie aangestel nie. Barnard   het gister aangekondig dat sy haar voltyds aan die stryd teen rassekwotas   gaan wy en het by Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidsverhoudinge   aangesluit.

 

Die klagtes wat Solidariteit by die MRK en CERD ingedien het, is   op aanvraag beskikbaar.

Foto’s van die mediakonferensie is op aanvraag beskikbaar.

 

Dirk   Hermann

Bestuurshoof:   Solidariteit

 

Johan Kruger

Adjunkhoofsekretaris: Solidariteit