“Alledaagse” wonderwerke

Teks: “Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee” (Matt 14:19).

Hier het beslis ʼn groot wonder plaasgevind toe Jesus natuurlike prosesse (saai, groei, oes en maal van die koring) wat maande sou duur, in ʼn paar oomblikke saamgepers het. ʼn Wonderwerk kan onder meer gedefinieer word as iets wat gebeur wanneer God die natuurwette ophef. Selfs al het vele van ons al sulke wonders gesien en beleef, moet ons ons oë nie sluit vir die wonders wat elke dag deel van die natuur is nie. Op ʼn minder opmerklike manier verrig die Here hierdie wonderwerk van die vermeerdering van die brood nog elke dag voor ons oë.

​Dink daaraan: ʼn Enkele koringkorrel wat geplant word, begin groei, en sonder dat die mens enigsins iets daartoe bydra, vermeerder dit veelvoudig. Ons kan nie met iets wat ons doen, die koringkorrel laat vermeerder nie. As ons méér van iets wil hê, moet ons immers nog daarvan máák. Die spontane en natuurlike vermeerdering van ʼn eenvoudige koringkorreltjie is dus opsigself ʼn wonderwerk – en ʼn bewys dat God werklik bestaan.

​In elke mens wat Hy geskep het, trouens, in elke lewende sel, het God die vermoë geplaas om te vermeerder. Dit vind dalk nie, soos die wonder van die brood en vis wat vermeerder is, binne minute plaas nie, maar dat dit wél plaasvind, al neem dit maande, is steeds ʼn wonder.

​Soms is ons oë en verstand blind vir hierdie wonders van God se skepping wat elke dag om ons plaasvind. Onthou egter dat die God wat hierdie “klein” en “alledaagse” wonders doen, dieselfde God is wat die “groot” wonders doen, al is eersgenoemde meer algemeen en minder opspraakwekkend.

Gebed: “Maak my oë oop om u wonderwerke in die natuur om my en elke dag in my lewe raak te sien, Almagtige God. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

Davies moet wetsontwerp skrap, nie herskryf nie

Die Wetsontwerp op die Lisensiëring van Sakeondernemings, 2013, moet in geheel geskrap word eerder as om slegs herskryf te word, het die vakbond Solidariteit vandag gesê. Rob Davies, die minister van handel en nywerheid, het gister laat blyk dat die essensie van die wetsontwerp ʼn obsessie met beheer is: om die staat die mag te gee om alle handelsaktiwiteite te monitor en oortreders selfs te verbied om ooit weer handel te dryf.

Davies het gister gesê dat die wetsontwerp bloot te “stomp” geskryf is en dat die herskrewe weergawe nie ingrypend van die oorspronklike sal verskil nie.

Volgens die minister is die wetsontwerp se doel nie om besighede te skaad nie, maar eerder om besighede wat onwettig optree, te straf. Die onwettige optrede wat deur die minister genoem is, sluit, onder andere, onwettige invoere, die verkoop van substandaard produkte, en vermyding van belasting op toegevoegde waarde in. Sulke bedrywighede is egter reeds oortredings van bestaande wette wat net toegepas kan word. Om ʼn nuwe wet vir hierdie bestaande redes in te stel, sou gewoon ʼn poging tot oëverblindery wees. Die oplossing vir bestaande onwettige aktiwiteite is tog nie om dit nogmaals onwettig te verklaar deur ʼn drakoniese, teenproduktiewe nuwe wet in te stel nie.

Volgens Piet le Roux, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, sal die wetsontwerp tot nadeel van werknemers, werkgewers en verbruikers wees en die weg baan vir ernstige privaatheidskendings en die misbruik van staatsmag.

“Die minister se doelwit met die wetsontwerp is nie die bevordering van die reg op vryheid van handel, beroep en professie nie, maar eerder die inkorting en die verydeling daarvan deur dit aan streng, arbitrêre regulasies onderhewig te maak, “ het Le Roux gesê.

“Die wetsontwerp getuig van ʼn obsessie met beheer. In plaas daarvan om eenvoudig spesifieke skadelike aktiwiteite te verbied, stel die minister voor dat enige sakeaktiwiteit eers staatsgoedkeuring moet hê voordat dit bedryf kan word. Só gesien is dit nie meer die geval dat enige sakeaktiwiteit, solank dit nie bedrieglik of andersins verbode is nie, aanvaarbaar is nie. Ingevolge hierdie benadering sal geen sakeaktiwiteit aanvaarbaar wees tensy dit gelisensieerd is nie,” vervolg Le Roux.

Le Roux sê dit is duidelik dat Davies die skadelike aspekte inderwaarheid as die wenslike elemente van die wetsontwerp beskou. “Dit het daarom geen sin om die wetsontwerp te herskryf nie en Solidariteit hou vol dat die wetsontwerp in sy geheel geskrap moet word.”

Outeur:

Piet le Roux

Senior ekonomiese navorser: SNI

Fokus van Kommissie vir Billike Indiensneming se verslag is misplaas

In die 13de verslag van die Kommissie vir Billike Indiensneming word die rassesamestelling van die ekonomies aktiewe bevolking weereens as die enigste en finale maatstaf vir die vordering van regstellende aksie gebruik. Volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se kritiese ontleding van die kommissie se verslag lyk dit asof die kommissie slegs tevrede sal wees wanneer die Suid-Afrikaanse arbeidsmark in terme van ras presies dieselfde lyk op elke posvlak, by elke werkgewer en op elke plek in die land.

 Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI, sê die verslag herhaal soortgelyke foute en wanvoorstellings van inligting wat reeds herhaaldelik in vorige jare deur die SNI aan die kommissie uitgewys is. “Die kommissie se hooffokus is weer op die rassesamestelling van die top- en seniorbestuursvlakke, ten spyte daarvan dat hierdie vlakke gesamentlik minder as 2,8% van die werknemers wat deur die verslag gedek word, uitmaak. Die kommissie fokus op hierdie klein gedeelte van die arbeidsmark terwyl dit geen oplossing vir Suid-Afrika se nagenoeg 7 miljoen werklose mense bied nie. In die kommissie se verslag is 72 406 wit mans oorverteenwoordig op die top- en seniorbestuursvlakke. Selfs al kon die poste oornag aan die aangewese groep oorgedra word, sou dit geen noemenswaardige uitwerking op die aantal werklose mense hê nie.”

 Joubert sê die kommissie maak weer geen melding van die verskille in akademiese kwalifikasies tussen die onderskeie bevolkingsgroepe nie. Dit is een van die belangrikste redes hoekom alle posvlakke nie die rassesamestelling van die ekonomies aktiewe bevolking weerspieël nie. “Volgens die sensus van 2011 het byna 40% van volwasse wit mense ʼn kwalifikasie hoër as matriek terwyl minder as 10% van volwasse swart mense ʼn tersiêre kwalifikasie het. Minder as 20% van volwasse wit mense het nie matriek nie terwyl meer as 60% van volwasse swart mense nie matriek het nie. Dié opleidingsgaping kan egter nie weggewens of -geredeneer word nie. Dit is die werklikheid en kan slegs deur beter onderwys reggestel word.”

 Volgens Joubert is die kommissie se verkeerde interpretasie van sy syfers oor aanstellings en bevorderings nog een van die groot foute wat in vanjaar se verslag herhaal word. “Die kommissie verwys, byvoorbeeld, daarna dat 43,8% van werknemers op seniorbestuursvlak wit mans is en dat 42,6% van die aanstellings en 32,1% van die bevorderings op dieselfde vlak ook wit mans is. Die kommissie vergelyk dan die syfers met wit mans se verteenwoordiging in die ekonomies aktiewe bevolking en kom tot die gevolgtrekking dat hierdie syfers beteken dat wit mans sal voortgaan om op seniorbestuursvlak te oorheers. In werklikheid dui die syfers juis daarop dat wit mans se posisie op seniorbestuursvlak en inderdaad op alle vlakke geleidelik afneem.”

 Die SNI se volledige kritiese ontleding van die verslag is aangeheg.

A critical analysis of the 13th CEE report – Solidarity 

 Outeur: Paul Joubert
Senior ekonomiese navorser: SNI

Decisions on Insolvency & Deeds Office Procedures – SARIPA

  SARIPA

 
Dear MembersPlease see attached decisions, kindly sent to SARIPA by Mr Martinus (Tienie) Cronje, Principal State Law Adviser, Office of the Chief Master, Department of Justice and Constitutional Development, together with his comments thereon which appear below:-


Chiliza v Govender

Service of the rule nisi (provisional sequestration order) on SARS (the tax authority) is not peremptory. Service of the petition is. The court has a discretion to insist on service of the order.

ABSA Bank Limited v CIPC

Section 83(4) of the Companies Act 71 of 2008 applies to deregistration of a company or close corporation for any reason, also for reasons other than liquidation. Where a company or corporation has been deregistered by the CIPC in terms of section 82(3) rather than in terms of section 82(2)(b), an interested party may either apply to the CIPC for restoration in terms of section 82(4) or to the Court in terms of section 83(4). Particularly where the interested party finds it impossible or practically difficult to comply with the prescribed requirements relating to restoration in terms of section 82(4), an application to court in terms of section 83(4) is available as an alternative. Section 83 applies to the deregistration of a company under the old Companies Act 61 of 1973 (before 1 May 2011). Regulation 40(6) does not apply to orders of reinstatement made by the court under section 83(4), though a court could in an appropriate case make an order under section 83(4) requiring returns to be filed if it was just and equitable to do so. The company is after restoration re-vested with the assets and liabilities it had immediately prior to its dissolution, but nothing done by the company and no action taken against the company during the period of dissolution is of any effect and no validity or life is breathed into such conduct or action by the making of the order restoring the company. Assets will no longer be bona vacantia.


The following information has been sent to SARIPA by Bessie Bester from Progressive Administration (Cape) (Pty) Ltd and might be of interest to Practitioners, particularly in the Western Cape.

 The Registrar of Deeds in Cape Town has ruled that where a Trustee or Liquidator signs transfer documents on behalf of his co-appointees in terms of a Resolution , such Resolution does not have to be lodged with the Deeds Office.  It is the responsibility of the Conveyancer to ensure that the party signing the documentation has been duly authorised.

The aforementioned ruling will come as a relief to Practitioners in the Western Cape where transfers have often been delayed because of the insistence by the Registrar of Deeds that the original Resolution should be lodged.


 

 Kind regards

The SARIPA Legislation Monitoring & Communication Committee
Call : 011 447-3877
Fax : 086 691-6987
Email :
info@saripa.co.za
Web :
www.saripa.co.za
Post : P O Box 10527, Johannesburg, 2000

SARIPA is grateful for the enclosed contribution, but does not warrant either the content, or any opinions or advice, contained therein.

Solidariteit verklaar loongeskil met Telkom

Die vakbond, Solidariteit, het ʼn geskil na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys ná loononderhandelinge tussen vakbonde en die telekommunikasiereus, Telkom, op ʼn dooiepunt uitgeloop het. Vakbonde het Telkom se finale loonaanbod van ʼn 1,5%-verhoging verwerp.

 Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê loononderhandelinge met Telkom het in Maart vanjaar begin en ná vyf rondes van onderhandelinge is nog geen vordering gemaak nie. “Solidariteit eis ʼn loonverhoging van 8,8%. Dit is gebaseer op die verbruikersprysindeks van 5,8% plus 3%. Ons is meer as bereid om met Telkom te onderhandel en sal enige billike aanbod van die werkgewer aan ons lede voorlê.”

 Die datum waarop die KVBA die saak sal aanhoor, is nog nie bekend nie.

 Solidariteit is intussen ook steeds in gesprek met Telkom oor die vrywillige skeidingspakkette en vroeë aftrede-pakkette wat hy vroeër vanjaar vir sy hele werksmag van nagenoeg 21 000 werknemers aangebied het.

 Outeur : Marius Croucamp

Woordvoerder: Solidariteit

Die Skepper is groter as die skepping

Skrifgedeelte: Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee” (Matt 14:19).

Die wonderwerk van die vermeerdering van die brood en vis was inderdaad groot en dramaties – dit is die enigste wonderwerk waarvan al vier die Evangelies vertel. Dink mooi na oor wat werklik hier gebeur het: Jesus het as ’t ware die tyd en die hele proses waardeur koring of gars moet gaan totdat mense met brood in die hand kan staan – die saad wat in die grond gesaai word, wat ná maande geoes, uitgewan en tot meel gemaal word, die deeg wat aangemaak en in die oond gebak word – in ʼn paar oomblikke saamgepers. ʼn Proses wat normaalweg agt tot nege maande sou duur, het Hy in ʼn paar oomblikke laat plaasvind.

​Hieruit kan ons leer dat God inderdaad beheer oor die natuur het. Hy het die natuur en sy wette geskep, en Hy gebruik dit. Maar God is ook groter as die natuur. Wanneer Hy ’n doel wil bereik, kan Hy die wette van die natuur ophef en ook daardeur sy doel bereik. Die digtheid van yster is hoër as dié van water, maar wanneer die profeet bid, kan die Here ʼn byl op die water laat dryf.

​Ons mag nooit dink dat die Here aan sy skepping onderworpe is nie. Die Skepper is groter as sy skepping. En die wetenskap met sy wette vorm deel van God se skepping. God is vír die wetenskap, maar Hy is nie daaraan onderwerp nie. Hy gebruik die wetenskap en werk daardeur – maar Hy is veel méér as wetenskap en natuurwette. God praat altyd laaste!

 

Gebed: “Ek bely dat U die Skepper en Heer van die hele skepping is, Here my God”. Amen.

 Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

Cosatu moet standpunt oor regstelaksie in hof stel – Solidariteit

Solidariteit het vandag ʼn uitnodiging aan Cosatu in die Wes-Kaap gerig om sy standpunt rakende regstellende aksie in die arbeidshof in Kaapstad te stel wanneer die vakbond se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) in Julie hervat word. Cosatu is ʼn belangrike rolspeler in die Wes-Kaap en sy standpunt moet deur die hof gehoor word.

 

Cosatu in die Wes-Kaap se standpunt dat die nasionale rassedemografie nie in die Wes-Kaap toegepas kan word nie, is in teenstelling met die standpunt van Popcru, ʼn Cosatu-geaffilieerde vakbond. Die hof moes verskeie kere tydens die hofsaak hoor dat Popcru die regstellendeaksieplan van die DKD ondersteun en dat dit met Popcru onderhandel is. Die steun van Popcru is een van die staat se sterkste argumente in die hofsaak.  

 

Cosatu Wes-Kaap se standpunt is ook teenstrydig met die manier hoe die regering regstellende aksie toepas. Die staat het vir agt dae in die hof gedurende kruisondervraging die toepassing van die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap verdedig.

 

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê dit sal ʼn kragtige boodskap wees indien Solidariteit en Cosatu in die hof saamstem dat die regering se benadering tot regstellende aksie, naamlik dat die nasionale rassedemografie in elke werkplek, selfs op provinsiale en streeksvlak, weerspieël moet word, irrasioneel en verkeerd is. “Dit sal ʼn duidelike boodskap stuur dat daar nie rasseverdeeldheid is met betrekking tot hierdie saak nie.”

 

Vir Cosatu se mediaverklaring oor die aangeleentheid, kliek hier.

 

Dirk Hermann

Adjunk uitvoerende hoof: Solidariteit

 

Johan Kruger

Woordvoerder: Solidariteit

Solidariteit vs. die DKD: Vakante poste word nie gevul nie; saak uitgestel

Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) is Vrydag uitgestel met die voorwaarde dat die poste waarvoor die applikante aansoek gedoen het en wat nie gevul is nie, vakant bly. Die saak sal weer op 29 Julie hervat tot 9 Augustus.

Solidariteit tree namens Linda-Jean Fortuin, Christopher February, André Jonkers, Geo-nita Baartman, Pieter Davids, Derick Wehr, Jan Kotze, Desiree Merkeur, Deidre Jordaan en Teresa Abrahams op. Die betrokke persone was telkens die beste kandidate vir poste waarvoor hulle aansoek gedoen het en hul velkleur is die enigste rede waarom hulle nie aangestel is nie. In al die gevalle het die DKD geargumenteer dat die nasionale demografie as maatstaf gebruik moet word.

Solidariteit voer aan dat die DKD se blatante beleid van absolute rasseverteenwoordiging onbillik, irrasioneel en onwettig is. Solidariteit gaan nie net vra vir ’n beslissing dat sy lede bevorder word nie, maar ook dat die regstellendeaksieplan van die DKD in sy geheel onwettig verklaar word.

Outeur:

Dirk Hermann

Adjunk uitvoerende hoof: Solidariteit

Meer inligting oor die onderskeie applikante word hieronder verstrek:

Linda-Jean Fortuin: Linda Fortuin is ’n bruin vrou wat oor 26 jaar se diens beskik. Sy het vir drie poste aansoek gedoen, maar is weens regstellende aksie vir al drie die poste oor die hoof gesien. Sy is later, met ingang van 1 Junie 2012, wel in een van die poste, dié van areakoördineerder by Polsmoor, aangestel.

Pieter Davids: Davids is ʼn wit werknemer wat oor 26 jaar se diens beskik. Hy het aansoek gedoen om die pos van assistentdirekteur: menslikehulpbronne-administrasie. Hy was die beste kandidaat en is as die enigste kandidaat aanbeveel. Die area- en streekskommissaris het aanbeveel dat daar van die regstellendeaksieplan afgewyk word en dat hy aangestel word. In die aanbeveling is selfs aangevoer dat indien mnr. Davids nie aangestel word nie, dienslewering benadeel sal word. Die nasionale kommissaris het egter die aanbeveling op grond van die DKD se regstellendeaksieplan van die hand gewys en die pos is weer geadverteer en gevul deur ʼn swart kandidaat.

Christopher February: February het vir die pos van Senior staatsrekenmeester aansoek gedoen en is as die beste kandidaat aanbeveel. Die direkteur vir billike indiensneming het egter aangevoer dat die aanbeveling nie strook met die regstellendeaksieplan nie en die tweede beste kandidaat, ʼn swart vrou, is aanbeveel. Sy het egter reeds ʼn ander pos aanvaar en die pos is weer geadverteer. February is ʼn bruin werknemer wat oor 16 jaar se diens beskik.

André Jonkers is ʼn bruin werknemer wat oor 17 jaar se diens beskik. Hy het reeds twee keer in die pos van bestuurder in die opleidingsdivisie waargeneem. Hierdie pos is geadverteer en hy het daarvoor aansoek gedoen. ʼn Swart vrou is egter aangestel. Sy het ʼn ander pos aanvaar en mnr. Jonkers is gevra om weer in die pos waar te neem. Hy het reeds vier keer om poste aansoek gedoen, maar ʼn swart persoon is telkens aangestel.

Geo-nita Baartman is ʼn bruin vrou wat oor 13 jaar se diens beskik. Sy het aansoek om ʼn assistentdirekteurspos gedoen. Die ander kandidate was vier swart vroue. Sy was die beste kandidaat en is vir die pos aanbeveel. In weerwil hiervan is besluit dat die tweede beste kandidaat aangestel word. Dié persoon is egter in ʼn ander pos aangestel en daar is aanbeveel dat die derde beste kandidaat aangestel word. Hierdie aanbeveling is nie geïmplementeer nie. Die pos is eerder vakant gelaat en me. Baartman neem steeds in die pos waar.

Desiree Merkeur

Merkeur het aansoek gedoen vir die pos van sekretaresse: areakommissaris in die Breederivier-bestuursarea, Wes-Kaap. Sy is deur ’n onderhoudpaneel as die beste kandidaat vir die betrokke pos aangewys. Niemand is egter in die pos aangestel nie weens die DKD se regstellendeaksieplan. Merkeur het op 22 Augustus 2012 ’n saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys nadat sy alle interne grieweprosedures uitgeput het. Die saak is op 12 September 2012 na die arbeidshof verwys.

Teresa Abrahams

Abrahams het aansoek gedoen vir die pos van senior korrektiewe beampte: eenheidsbestuurder in die Warmbokveld-bestuursarea, Ceres. Sy is deur ’n onderhoudpaneel as die beste kandidaat vir die betrokke pos aangewys. Sy is egter nie in die pos aangestel nie, aangesien sy ’n bruin vrou is en haar aanstelling nie met die teikens van die DKD se regstellendeaksieplan sou strook nie. Abrahams het op 17 Augustus 2012 ’n saak na die KVBA verwys nadat sy alle interne grieweprosedures uitgeput het. Die saak is op 10 September 2012 na die arbeidshof verwys.

Deidre Jordaan

Jordaan het aansoek gedoen vir die pos van werknemerbystandspraktisyn by die Brandvlei-gevangenis. Sy is deur ’n onderhoudpaneel as die beste kandidaat vir die betrokke pos aangewys. Sy is egter nie in die pos aangestel nie, aangesien sy ’n bruin vrou is en haar aanstelling nie met die teikens van die DKD se regstellendeaksieplan sou strook nie. Jordaan het op 22 Augustus 2012 ’n saak na die KVBA verwys nadat sy alle interne grieweprosedures uitgeput het. Die saak is op 12 September 2012 na die arbeidshof verwys.

Jan Kotze

Kotze het aansoek gedoen vir die pos van sentrumhoof by die Drakenstein-gevangenis. Hy het van 2009 tot vroeg in 2012 in die pos waargeneem. Kotze het op 20 Augustus 2012 ’n saak na die KVBA verwys nadat hy alle interne grieweprosedures uitgeput het. Die saak is op 10 September 2012 na die arbeidshof verwys.

Derick Wehr

Wehr het aansoek gedoen vir die pos van werkswinkelbestuurder in die Drakenstein-bestuursarea. Hy neem tans in die posisie waar. Hy is deur ’n onderhoudpaneel as die beste kandidaat vir die betrokke pos aangewys. Hy is egter nie in die pos aangestel nie, aangesien sy aanstelling nie met die teikens van die DKD se regstellendeaksieplan sou strook nie. Wehr het op 17 Augustus 2012 ’n saak na die KVBA verwys nadat hy alle interne grieweprosedures uitgeput het. Die saak is op 10 September 2012 na die arbeidshof verwys.

Medewerkers van Christus

Skriflesing: “Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee” (Matt 14:19).

 

Dit is wonderlik dat God mense gebruik. Daardie dag op die grasbedekte heuwel langs die See van Galilea sou die dissipels weinig aan die nood van die mense kon doen as Christus nie die brood gebreek en dit vir hulle gegee het om uit deel nie. Jesus het hulle by die wonder betrek deurdat hulle in die eerste plek die bietjie wat hulle gehad het na Hom toe gebring het – en daarna deur hulle te vra om die voedsel wat Hy geseën en vermeerder het aan die skare uit te deel.

 

​So dikwels wil die Here ons gebruik om vir iemand ʼn seën te wees. Hy seën ons sodat Hy déúr ons ook ander kan seën. Jy het dalk al die woorde van hierdie lied gehoor: “Oh, to be His hand extended/reaching out to the oppressed/let me touch Him, let me touch Jesus/so that others may know and be blessed.”

 

​Kan dit wees dat die Here soms ook vir ons nodig het? Kan dit wees dat die Almagtige deur ons ongehoorsaamheid of onwilligheid beperk kan word? Dat iemand seën kan misloop omdat ons onwillig is of nie beskikbaar is om deur die Here gebruik te word nie? Laat ons dan met ootmoed en dankbaarheid besef dat die Here ons roep en nooi om sý medewerkers te wees; om deel te hê aan sý handelinge met hierdie wêreld, en om eendag te hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienaar …”

 

Gebed: “Dankie dat U ook vir my kan en wil gebruik in u diens, Here. Maak my bereid om tot u beskikking te wees. Amen.”

 Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

Kerk-, vakbond- en gemeenskapsleiers eis dat die staat sy onbillike regstellendeaksiebeleid stop

Verskeie kerk-, vakbond- en gemeenskapsleiers het hulle Donderdagmiddag ten sterkste uitgespreek teen ʼn regstellendeaksiebenadering wat ten doel het om die nasionale rassedemografie oral in Suid-Afrika te laat weerspieël, ongeag die demografie van ʼn provinsie of streek. Meer as 15 kerk-, vakbond- en gemeenskapsorganisasies het tydens ʼn mediakonferensie by die arbeidshof in Kaapstad hul steun aan Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) uitgespreek.

 Johnny Jansen, stigterslid en voormalige president van Popcru en adjunkdirekteur in die DKD, het namens die organisasies hul griewe duidelik gemaak. Jansen sê die staat se benadering tot regstellende aksie respekteer nie Suid-Afrika se ryk kulturele verskeidenheid nie, maar wil hê dat Suid-Afrika oral dieselfde lyk. “Hierdie beleid het tot gevolg dat absolute plafonne vir minderhede geld as hulle volgens die nasionale rassedemografie op enige plek oorverteenwoordig is. Die Wes-Kaap is ʼn goeie voorbeeld van die gevolge van hierdie irrasionele benadering tot regstellende aksie. Nasionaal gesproke vorm bruin Suid-Afrikaners ongeveer 10% van die rassedemografie, maar in die Wes-Kaap verteenwoordig hulle sowat 53% van die demografiese samestelling. Indien die nasionale rassedemografie op die Wes-Kaap toegepas word, sal dit beteken dat daar sowat een miljoen bruin Suid-Afrikaners te veel in die Wes-Kaap is. Volgens hierdie benadering sal hulle nie regte hê waar hulle bly nie, maar sal hulle agter hul regte moet aan trek. Dit sal beteken dat ʼn reuse-sosialemanipulasieprogram en gedwonge verskuiwings nodig is om die staat se regstellendeaksiedoelwitte te bereik.”

Jansen sê regstellende aksie ontaard in ʼn suiwer wiskundige benadering en het alles met ras, maar min met regstelling te doen. “Die mens word uit regstellende aksie gehaal en met statistiese berekenings vervang. ʼn Benadering waarvolgens mense suiwer op grond van hul ras weerhou word van bevordering, tas die persone se reg op waardigheid en gelykheid aan. Minderhede word só van die politieke stelsel vervreem. Ons spreek ons ook uit teen die departement van korrektiewe dienste se benadering tot regstellende aksie wat hierdie beleid van rasseverteenwoordiging in praktyk laat neerslag vind. Ons spreek ons solidariteit uit met die werknemers van die departement van korrektiewe dienste wat dapper genoeg was om die saak op te neem. Hulle doen dit nie vir hulself nie, maar vir die beginsels van billikheid, regverdigheid en gelykheid wat onderliggende waardes van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is. Hulle verdien die steun van alle Suid-Afrikaners, ongeag kleur.”

Jansen het die DKD-werknemers sterkte toegewens met hul onbaatsugtige opoffering om die beginsels van die Grondwet in die hof te verdedig. “Hul sukses in die hof sal die gesig van regstellende aksie in die staatsdiens vir altyd verander en keer dat hierdie rassepraktyke nie ook na die privaat sektor oorspoel nie. Ons wil ons teleurstelling uitspreek dat dit nodig is om die regering na die hof te neem om hierdie regstellendeaksiepraktyke te stop. Dit is ons eis dat die regering en die departement van korrektiewe dienste hierdie onbillike praktyke staak.”

Outeur:

Johnny Jansen