Die land se paaie gaan weer baie besig wees oor die fees seisoen en daarom wil ons u graag inlig van die 2011 – 2020 Dekade van Aksie vir Padveiligheid, ʼn wêreldwye plan van aksie vir padveiligheid, wat fokus op aksie in kritiese areas, insluitend die verbetering van die standaard van paaie en voertuie tot die verbetering van die gedrag van bestuurders, motorfietsryers en voetgangers.
Padverkeersbeserings is ʼn ernstige openbare gesondheidsprobleem en is wêreldwyd een van die vernaamste oorsake van dood, beserings en ongeskiktheid. Elke jaar sterf daar ongeveer 1,3 miljoen mense as gevolg van padverkeersbeserings en tussen 20 en 50 miljoen meer word beseer as gevolg van padongelukke. Meer as 90% van hierdie sterftes vind plaas in laer- en middel-inkomste lande, wat minder as die helfte van die wêreld se voertuie besit. Padverkeersbeserings is tussen die drie mees prominente oorsake van dood van mense tussen 5 en 44 jaar oud
Padverkeersbeserings is wêreldwyd ʼn ernstige bedreiging vir menslike en ekonomiese ontwikkeling en prestasie. Dit word beraam dat die globale verliese wat gely word as gevolg van padverkeersbeserings, tot 518 biljoen dollar is en dat dit lande tussen 1 en 3% van hulle bruto nasionale produk kos. In sommige lae- en middel-inkomste lande. Is die verlies meer as die totale bedrag ontwikkelingshulp wat hulle ontvang. Padverkeersbeserings plaas ook ʼn baie swaar las op ʼn land se ekonomie as gevolg van die direkte impak wat dit het op die gesondheidsorg en rehabilitasiedienste, maar ook deur indirekte kostes, soos bv. verlies van produktiwiteit. Dit plaas ook geweldige finansiële spanning op families van die beseerdes, omdat hulle dikwels die mediese en rehabilitasiekostes moet absorbeer, asook die begrafniskostes en ander kostes soos bv. die verlies aan inkomste van die beseerdes, bo en behalwe die aansienlike emosionele spanning wat dit op hulle plaas.
Op 10 Mei 2010, het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VN) Resolusie A/RES/64/255 aangeneem, wat die periode 2011 – 2020 verklaar het as die Dekade van Aksie vir Padveiligheid. Die doel is om die padverkeersterftes wêreldwyd te stabiliseer en dan te verminder deur die verskerping van aktiwiteite op globale, nasionale en streeksvlak.
Onthou: Die veilige en verantwoordelike gedrag van alle bestuurders op ons paaie lewer ʼn groot bydrae tot ʼn feesseisoen met minder ongelukke, minder beserings en minder padverwante sterftes!
Ek doen dus ʼn ernstige beroep op al ons lede: Kom ons doen elkeen ons deel om by te dra tot die kwaliteit van hierdie feesseisoen, in plaas daarvan om deel te word van die padongelukstatistieke in Suid-Afrika!
Paul Mardon
Hoof: Berpesgesondheid en Veiligheid
Solidariteit Regsdienste
(Erkenning: Chemical and Allied Industries’ Association: ChemNews, Ed 109 November/December 2011)


